Reflections | Herinneringe

1958 - present
Lionel Peters

1956 my eerste ontmoeting met die dorp Biskop Lavis kleurlingdorp soos dit deur Utility, later Housing League en nog later Communicare gedoop is. Ek begin skool, Sub A, in die huisiesskool William Mason gelee in Akkerboomweg.

1958, William Mason verskuif na Koppiesdamweg om plek te maak vir Bishop Lavis Middelbare skool in die; huisiesskool, terwyl Elsiesrivier Sekondere skool wat in Bishop Lavis Primere Skool. Mnr. Van Gensen van Bishop Lavis Primer neem waar as skoolhoof van Bishop Lavis Middelbare skool en word later 1958/9 opgevolg deur Mnr v.d Heever (Sarge) so genoem omdat hy altyd penregop met swaaiende hande bevele links en regs aan leerders sowel as onderwysers uitgeblaker het.Hy was Aardrykskunde onderwyser en met sy lesaanbiedinge,het hy die geleentheid gebruik om ons te vertel van sy ervaringe in die oorlog nie. Hy was 'n sportliefhebber en het hy saam met die skool sokker en rugbyspanne per trein of bus na die sportvelde gereis (na skool).

1959/60 die huidige skoolgebou word in gebruik geneem, maar sonder die gedeelte wat die biblioteek tot huishoukundekamer, houtwerkkamer, Kamer 47, die N-blok en geen saal nie (dit sou tussen 1960 - 1981 aangebring word). Daar was geen omheining nie en die skoolterrein bestaan uit sandduine. Die skoolkurrikulum sluit Latyn in, maar handelsvakke is uitgesluit. Praktiese vakke, Houtwerk, Naaldwerk, Tik, Huishoudkunde word later ingevoer. Die skooldrag is n bruin skoolbaadjie met n wit en groen rant. Vaalbroek vir seuns, groen das, groenromp vir dogters.

In 1964 begin ek st.6 by Bishop Lavis Sekonder waar ek in 1968 gematrikuleer het.Die dorp word "kill me quick" gedoop. Die apartheidsbeleid, veral groepsgebiede wet word genadeloos uitgevoer. Uitbreidings soos die West, die berge, Skoolstraat, John Ramseystraat tot Skyweg, Lavisdrive tot Railwaystraat en Nooitgedacht moes mense van die Akkers, Vasco, Parow, Matroosfontein en Transkei huisves. Nog 5 laerskole en 'n sekondereskool word gebou.

Ten spyte daarvan vind ek van briljante onderwysers by die skool: Mnre Sobotker, Solly Pretorius, Bill Meyer, Slaverse, Coetie Neethling, Koert Maurice, De Laura, Wicomb, Poole, Josias, Langenhoven, Simpson, Titus, Jacobs; Me. Faullman, De Vries, Moses.

1963 tot1966 was n watersskeidingsjaar vir die skool insoverre dit politiek veral die deelname van onderwysers. Die skool se natskei-onderwyser word in 1963 verban. Die apartheids regering slaan hard toe, toe onderwysers nie aan die republiekvieringe wou deelneem nie. Baie van hulle is na die platteland verban. Debat en Kultuurverenigings deur leerlinge gestig is gesien as n front om leerders polities bewus te maak. Nietemin was onderwysers absolute helde. Die name van Piet Wicomb (eerste cantata van die skool), Koert Maurice (opvoering van Raka), Bill Meyer (die klassieke tale en debatvoering), Coetie Neethling nasionale ikoon in krieket en sokker. Hulle het die voortou geneem in die oplewing in die akademiese, kulturele en sportprestasies van die bloeitydperk van die "Ou Bishop" (1970-90).

Die hergradering van Bishop het saamgeval met interessante verwikkelinge by twee ander skole. Alhoewel Bishop se eerste matrikulante in 1964 opgelewer word, word die skool se getalle aangevul deur leerders (st.10) wat deur Belgravia Sek. vir een of ander rede nie teruggeneem is nie. Dieselfde geld vir leerders van Arcadia Sek. wat gedegradeer is. Ten spyte van moeilike omstandighede sou akademiese prestasies deurlopend hoog wees. Ek verwys ook na die apartheidsbedeling wat bepaal het dat die matriekslaagsyfer nie meer as 60% sou wees nie. Tydens die jare 1960 -2000 lewer Bishop ten spyte van voorgenoemde uitstekende uitslae en n groot % van ons matrikulante gaan studeer verder op tersiere instellings waar hulle weereens bewys dat hulle met die beste in die land kon meeding. Dwarsoor die land, maar ook oor die wereld vind ons hulle in sleutelposisies op mediese gebied, ingenieurswese, kunste, akademie, regte, sakewereld, tegniese, teologiese, politiek, media en ander beroepe. Ek sal nie al die name kan noem nie, want dit sou onregverdig wees teenoor diegene wie se name ek vergeet het, maar dit is belangrik dat hulle op een of ander manier onthou word deur byvoorbeeld n databasis van die presteerders op te stel. Die byrae op kulturele gebied van die volgende moet gemeld word: Piet Wicomb se cantata in 1967; Peter Braaff se opvoering van Adam Small se stukke in 1974, Koert Maurice se opvoering van Raka in 1975; Gwenn Fisher se opvoering "Emma se donker dae" in 1998.

Voorgenoemde het 'n massiewe rol in die kulturele opleiding van ons leerders gespeel. Laat my toe om die name van Yassien Mohammed en Willie Adams te vermeld wat deur hul opvoerings en gedigte leerders polities bewus gemaak en opgelei het. Saam met Peter was hulle aktiviste.

RSC Balie skryf en komponeer in die 1970's ons skoollied en saam met Sir Roger Ruiters verrig hulle wondere met skoolmusiek asook ons skoolkoor.

Die gemeenskap van Bishop Lavis Sekonder is sportmal, veral wat atletiek betref. Ons eerste interskool vroeg in die 60's (60-63) is op Goodwood-stadion (nou Grandwest) en ons skoolnommer 13 word toegeken. Daarna verskuif dit na Groenpunt en uiteindelik Athlone-stadium. Wie sal ooit die drama en opgewondenheid by hierdie byeenkomste vergeet veral met die aankondiging van "points to date". Mnre Josias en Julius het seker gemaak dat almal weet wat die stand van sake was, terwyl Francois Maclons die aflosspanne gaan "organiseer". Vooroordeel was in die orde van die dag en die leerders van Bishop Lavis is nie maklik in 'n WP-span opgeneem nie. Die eerste atleet was 'n Overmeyer-dogter (1963 hoogspring), nog 'n uitstekende atleet was Margaret Agnew (1964 100m) en Tony Arendse (1965 100,200m later nasionale kampioen. Hans Krams, langafstand en Micheal Johns hoogspring haal in 1968 die WP-span. Tertius Constance neem in 1968 as LO onderwyser oor en saam met Coetie Neethling is hulle verantwoordelik daarvoor dat Bishop heelwat WP's in die 70's oplewer. Ek noem paar; 'n Beryl Tippens (atletiek), Allen Africa (atletiek en sokker), Mamma Meyer (atletiek), Ian Rutgers (atletiek en sokker), Denzil Petersen (sokker), Stan Springleer (sokker). Die 1974 0/16 sokkerspan verras almal op Athlone-stadion deur die WP-span te klop. Die opgang in sport duur voort in die 198's veral met stigting van die atletiekklub deur onderwysers van die skool, oa mnre Smith, Maclons, Vd Ross, Radloff. Sterre soos wyle Samuel Wilkens, Patricia Barron, Tyshia Johannes, Helene Erasmus, Yolande Titus. Die skool lewer ook in ander sportkodes sterre op soos Joseph Fondeling (krieket,sokker) en Nicky Abrahams(krieket,rugby). Ander sportkodes soos gimnastiek, muurbal, sagtebal, hokkie, tafeltennis, netbal, vlugbal en skaak groei en in feitlik elk van die sportkodes ontvang ons leerders WP-kleure. Een van ons eerste take sou wees om die ererol van presteerders in alle fasette van die skool se prestasies op te stel.

Die skool was nie geisoleerd en het nie eensydig gestaan van die politieke ontwikkelinge in die land nie. Veral vanaf 1976 het ons studenteleiers sterk standpunt teen apartheidsonderwys en die politieke situasie ingeneem. Onthou hoe die skool in 1976, 1981, 1985, 1989 deur die polisie met traangas,knuppels en rubberkoeels bestorm is. Studenteleiers soos John Lindertz, Frank Julie, David Theys, Richard Kawie, John Stoffels, John Jeftha, Marius Fransman het die leiding geneem. Hulle het nuwe betekenis aan die konsep "studenteleier" gegee.

So het ons die "Ou Bishop" geken, die skoolleuse om net die beste te lewer is ten volle uitgeleef. Ek sou graag wou uitbrei oor die rol wat ouers in die lewe van die skool gespeel het, maar dit is 'n onbegonne taak. Hulle was wonderlike,eenvoudige, vriendelike, opregte, beginselvaste ouers wat die belang van die skool op hul hart gedra het - of dit nou by funksies, kommittees, beheerliggame, vergaderings of persoonlike sake in die kantoor was. Kom ons wees eerlik en erken dat hierdie ouers karakter aan die skool gegee het. Ongeag omstandighede het hulle die skool ondersteun. Ouers het die onderwysers ondersteun al het ons dit nie altyd besef nie. Hulle dring elke jaar daarop aan dat hul kinders hier by Bishop ingeskryf word.

Die periode na 1994 word gekenmerk as 'n nuwe demokratiese era waaroor ons almal baie opgewonde was,want omstandighede op skoolvlak sou verander.Veranderinge soos menseregte en vryhede het gekom, maar die impak daarvan op die skoolgemeenskap was nie wat ons verwag het nie. Ons leerders kon dit nie op 'n positiewe wyse verwerk nie. Dissipline het verval tot so 'n mate dat onderwysers en ouers se outoriteit bevraagteken en selfs geignoreer word. Klasonderrig word 'n nagmerrie vir die onderwyser. Nuwe diensstate bring mee minder onderwysers met oorvol klasse. Die nuwe benadering in die onderwys verg leerderselfwerksaamheid enouerbetrokkenheid. My ervaring was dat die ouers wat finansieel stabiel en in goeie betrekkings is, hul kinders oor die lyn na "beter" skole neem.

Dames en here, gevolglik lei dit tot; n nuwe bedeling in ons land wat die onderwys betref- daar is 'n baie duidelike lyn tussen die goedbedeelde "beter" skole en noem dit wat jy wil "township" skole. Laasgenoemde word gekenmerk deur oorvol klasse, karige infrastruktuur wat op 'n daaglikse basis gestroop word indien daar nie sekuriteitsbeamptes is nie, dissiplinere probleme, tekort aan menslike hulpbronne, lae moraal, hoe werkloosheidsyfer by ouers en heelwat sosiale probleme. Dames en here, vir ons is voorgenoemde nie 'n onbekende verskynsel nie, want ons ken armoede, weet wat dit is om swaar te kry, maar daar is tog verskille tussen die situasie nou en soos ons dit in die verlede ervaar het. Myns insiens is die verskil tevinde in hoe ons, die skoolgemeenskap, probleme benader en opgelos het. Vir ons as die BISHOP LAVIS HS ALUMNI, behoort ons taak (missie) te wees om saam met die huidige skoolgemeenskap uitdagings in die goeie funksionering van die skool te identifiseer en te bepaal in hoe 'n mate ons 'n bydrae kan lewer.

Die bydrae kan in enige vorm wees- materieel, finansieel, expertise of net morele ondersteuning deur deel te wees van die organisasie. Ek glo dat ons die verskil kan maak om toe te sien dat ons skool weer sy regmatige plek as 'n vooraanstaande plek van onderwys in die land kan laat inneem.

Oud-Skoolhoof Lionel Peters
(30 Mei 2015)